Wat is spelterapie / speelterapie?

 

 

Speelterapie is 'n wyse waarop berading gedoen, welstand bevorder en trauma voorkom word met kinders van ongeveer twee tot tien jaar oud. Die terapeut lei die kind tot beter self-begrip, aanvaarding en hantering van emosies en traumatiese gebeure. Die kind word bewus gemaak van sy ervarings in die hede en deur die gebruik van verskillende tegnieke soos klei, tekeninge, verf en speel kan die kind hierdie ervarings ondersoek en verwerk. Verskeie vaardighede word tydens terapie aangeleer wat die kind help om optimaal in sy leefwęreld te funksioneer. Die speelkamer bied ‘n veilige omgewing en tegnieke wat gebruik word laat die kind gemaklik voel. Omdat terapie binne die kind se verwysingsraamwerk plaasvind gee dit die kind geleentheid om selfbewustheid te bereik en deur onopgeloste probleme te werk.

Speelterapie is effektief vir onder andere sosiale, emosionele- en gedragsprobleme by kinders. Met aanloop van die terapie vind ‘n informele emosionele evaluering plaas om die kind se vlak van ontwikkeling en indien nodig, die hantering van trauma vas te stel. Tydens terapie word daar gefokus op die kind se behoefte, sou dit wees emosionele regulering (die hantering van emosies), die aanleer van sosiale vaardighede, die hantering van verandering, egskeiding en die rouproses. Speelterapie is baie voordelig vir kinders met spesiale behoeftes asook vir hul sibbe. Ouers ontvang ook ouerleiding waar nodig. Dit is belangrik dat die terapeut, ouers en in baie gevalle die onderwyser/s aan boord moet wees met die terapeutiese proses om ondersteuning aan die kind te kan verleen, en waar nodig die omgewing te verander om meer ondersteunend tot die kind se behoeftes te wees.

Terapie neem gewoonlik ongeveer 45 minute een tot twee keer per week of elke tweede week afhangend van die kind se behoeftes. Hierdie proses word met die ouers bespreek tydens die terugvoersessie.