|

Wat is Spelterapie?
Spelterapie is 'n wyse waarop berading met kinders (ongeveer drie tot elf jaar) en adolessente (twaalf tot agtien jaar) gedoen word.
Gedurende terapie maak die terapeut meestal gebruik van speletjies, speelgoed en ander mediums soos klei, tekeninge en verf om die kind of adolessent te help om emosies te verwoord, te eien en te hanteer in 'n veilige omgewing.
Spelterapie word ook aangewend vir emosionele assessering. 'n Spelterapeut observeer die kind wat met speelgoed soos speel-huise, diere, poppe ensovoorts speel, om vas te stel wat die oorsake vir sekere gedragspatrone is.
Die keuse van mediums en spelpatrone wat die kind openbaar asook die gewilligheid om met die terapeut kontak te maak, kan gebruik word om te verstaan wat die onderliggende rede vir gedrag tydens en buite terapiesessies is.
Waarom Spelterapie?
Die doel van spelterapie is om die kind of adolessent se emosies te ondersoek, vir die kind of adolessent om die emosies te eien en om alternatiewe te vind om die emosies op 'n aanvaarbare wyse te hanteer.
Dit is vir kinders en adolessente baie belangrik om die vermoë te besit om hulle emosies te kan verwoord en om dit te verstaan. Indien die kind of adolessent nie hierdie vermoëns besit nie, kan hy/sy moontlike struikelblokke ervaar wat gedrag en normale emosionele ontwikkeling kan beïnvloed.
Wanneer 'n kind of adolessent emosionele bagasie het, kan dit ook sy/haar akademiese vordering benadeel. Dit sal lei tot afname in skoolvordering en emosies soos nutteloosheid en onsuksesvolheid.
Hoe lank duur terapie?
Terapie vind gewoonlik plaas vir ongeveer een uur per week totdat die kind of adolessent al sy/haar onverwerkte emosies geeïn het en dit positief kan hanteer.
Terapie kan op enige stadium hervat word indien die kind of adolessent weer 'n behoefte aan terapie het.


|