Jou kinders verskil. Hoe nou?
Vrouekeur 18 September 2009

Jou kinders verskil soos dag en nag en reageer uiteenlopend op dissipline. Moet daar dan twee stelle reëls wees?

“My oudste kan nie ‘n pak slae kry nie. Hy vat dit vreeslik persoonlik en huil ure ná die tyd nog. Hy voel tot in sy siel verontreg. My jongste vergeet ‘n pak slae binne sekondes. Hy kom sit op my skoot en soen my dadelik,” vertel een ma. 

As twee sibbe só verskil, mag jy hulle dan maar verskillend hanteer?

Die Gautengse kliniese sielkundige, Mari-Luisa van Zyl, sê kinders word met verskillende persoonlikhede gebore en vra daarom verskillende maniere van grootmaak van jou.

“Jy moet aanvoel wat vir ‘n kind reg is en wat nie,” sê sy.

Die gewilde ouerskapghoeroe dr Benjamin Spock het geglo goeie ouers het hul kinders ewe lief in dié sin dat hulle hul aan elkeen toewy, vir elke kind die beste wil hê en die nodige opofferings maak sodat al hul kinders kan gedy.

“Omdat kinders verskil, kan ‘n ouer nie presies dieselfde oor almal voel nie. Dit is menslik en normaal dat ons verskillend oor ons kinders voel, ongeduldig met sekere karaktereienskappe en weer trots op ander is. Dit is die aanvaarding van dié gevoelens, eerder as om skuldig te voel, wat jou in staat sal stel om elke kind te behandel met die liefde en spesiale aandag wat hulle nodig het,” het dr Benjamin gesê.

Mari-Luisa sê ook ‘n ouer se persoonlikheid gaan dalk makliker by een van haar kinders as die ander een aanpas. “As jy hiervan bewus is, kan jy keer dat jy oorkompenseer vir jou kind wat byvoorbeeld meer sukkel.” 

Daar word dikwels gesê dat die jongste kind met “moord” kan wegkom, maar is dit werklik só dat ouers strenger is met die ouer kinders?

Navorsers by die Maryland-, Duke- en Johns Hopkins- universiteite sê ouers is beslis strenger met ouer kinders juis omdat hulle voel hulle moet ‘n voorbeeld vir die jonger kinders wees.

Kenners het ook agtergekom dat ouers “sag” raak met tweede of derde kinders en dat enigste of jongste kinders meer geneig is om risikogedrag te openbaar.

Dié navorsing toon ook ouers dink deur streng met die oudste kind te wees, maak hulle van hom ‘n voorbeeld en sal die jonger kinders dan nie dieselfde gedrag openbaar nie. Die kind word op die ou einde as ‘t ware gestraf sodat die jonger kinders daaruit kan leer. Wanneer die jongste kind later wel fouteer is ouers geneig om die probleem met liefde eerder as straf te probeer hanteer.

Navorsing aan die Illinois-universiteit toon dat ouers en hul kinders almal verskillende idees het rondom wat in die huishouding gebeur en hoekom. In ‘n studie wat in 74 huishoudings gedoen is, is daar bevind dat kinders selde indien ooit saamstem met redes hoekom hulle en hul sibbe verskillend deur hul ouers behandel word. Een ding wat egter duidelik is, is dat kinders beter met mekaar oor die weg kom as hulle dink hulle verstaan hoekom hul ouers hulle verskillend hanteer en as hulle glo dat hul ouers hulle almal regverdig behandel.

Dit is dus baie belangrik dat pa’s en ma’s regtig luister as hul kinders wil gesels oor die manier waarop hulle hanteer word. 

Dít bepaal hantering

Wietske Boon, ‘n sielkundige wat in spelterapie spesialiseer, sê omdat elke kind uniek is, stel ouers verskillende grense vir hul uiteenlopende kinders.

Daar sal in sommige gevalle strenger grense aan ouer kinders gestel word, terwyl die jonger kind moontlik minder grense benodig. In ander gevalle kan die skoolgaande kind meer toegewings kry, bv oor slapenstyd, terwyl die kleuter vroeër reeds bed toe moet gaan.

“Moet nooit vir jou kind besluit wat by sy persoonlikheid pas nie. Laat hom byvoorbeeld self besluit watter buitemuurse aktiwiteite hy wil doen. Moet ook nie jou kinders teen mekaar afspeel of hul rapporte vergelyk nie,” meen Mari-Luisa.

Oor die algemeen sal die gesin se waardestelsel op al die kinders van toepassing wees, ongeag hul ouderdom.

Ouers is ook geneig om sterk tussen geslagsrolle te onderskei. Mari-Luisa sê egter dit is nie nodig om vir dogters net dogtertjietake en seuns net seunstake te gee nie.

“As jou dogtertjie iets wil dra wat swaar is en sy kry dit reg, laat sy dit doen. Dit geld ook vir seuns wat in die kombuis help of tafel dek.”

Binne een gesin sal ouderdomsverwante reëls uit die aard van die saak verskil. Ouers kan byvoorbeeld hul oudste kind op 12 of 13 toelaat om tot by die park en terug fiets te ry terwyl ‘n agtjarige boetie moet wag tot hy dié ouderdom bereik. 

Kenners meen die gemoedelike, verantwoordelike kind in die huishouding kan maklik afgeskeep word. Moenie dink omdat jou een kind inskiklik is en nooit moeilik is nie, hy nooit eensaam voel nie. Gee ook vir dié kind van jou goedkeuring, liefde en tyd.

“Ouers is geneig om hul reëls aan te pas vir kinders wat siek is. Wanneer so ‘n kind lank siek is, raak die gesonde kind soms ‘n buitestander,” meen Mari-Luisa.

“Mamma is liewer vir Boetie”

As jou kind jou daarvan beskuldig dat jy liewer vir sy broer of suster is, gesels met hom oor wat hy van jou verlang. Vra iets soos: “Wat sal jou laat voel dat ek jou liefhet?”

Laat jou kind vir jou leiding gee. Om in vandag se gejaagde lewe alleentyd met elke kind te bewerkstellig is baie moeilik, maar ouers moet moeite hiermee doen,” sê Mari-Luisa.

Vir een kind mag dit moontlik net wees om saam met Pa of Ma ‘n bordspeletjie te speel, terwyl ‘n uitstappie na ‘n teetuin ‘n ander kind geliefd sal laat voel. Dié gehaltetyd gaan nie noodwendig vir elke kind dieselfde wees nie en moet aangepas word soos hulle ouer word.

Wanneer een kind baie meer tyd vra omdat hy byvoorbeeld met huiswerk sukkel of siek is, stel die ander gerus dat jou tyd nie gelykstaande aan jou liefde is nie. Sê iets soos: “Ek is vir julle almal ewe lief, maar as Boetie met huiswerk sukkel, moet ek hom help, as Sussie siek is, moet ek haar meer help en as jy my meer nodig het, sal ek weer daar wees vir jou.”

Liefdevolle aanraking en tyd vir elke kind kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Ma’s oor dissipline

Marli Swanepoel van Sasolburg sê daar is nie ‘n groot verskil in die manier waarop hulle Hanno (7) en Rico (5) dissiplineer nie. Al twee sal ‘n pak slae kry as ons voel dit is toepaslik, maar ons voel tog dat ons al meer met Hanno, die oudste, kan redeneer en gesels oor waarom hy gestraf word. Hoe ouer hulle word, hoe minder straf ons met lyfstraf en hoe meer vat ons eerder voorregte weg, deur bv TV-kyk te verbied of sakgeld af te trek.”

Sy sê hul kinders hanteer dit verskillend wanneer hulle gestraf word. “Hanno is meer fyngevoelig en bly ‘n ruk lank kwaad vir die een wat hom gestraf het. Hy begin ook sommer huil nog voor ‘n mens aan hom vat. Rico huil nie so maklik nie. Hy sal probeer onderhandel en as dit nie werk nie, sal hy maar sy straf vat. Hy wys nie soveel emosie nie en soms lyk dit asof hy ‘n pak nie eers voel nie.”

Marisa Engelbrecht van Pretoria, ma van Coert (5) en Zani (2), sê dit is vir haar krities belangrik om die kinders dieselfde te dissiplineer. 

“Ek dink die kuns kom daarby in om ‘n dissiplineringsmanier te vind wat al twee sal bevoordeel. Om een kind op ‘n sekere manier te dissiplineer en die ander kind op ‘n ander manier, sal volgens my net tot groter frustrasie lei. Die een kind gaan voel die ander kind word bevoordeel/benadeel en sy optrede daarvolgens aanpas, wat eintlik glad nie die gewenste uitwerking gaan hê nie.”

Sy sê hul kinders se persoonlikhede verskil ook hemelsbreed en die een is beslis meer fyngevoelig as die ander een. “Zani sal ure huil as jy haar net liggies op die boud tik. Coert tart ‘n mens weer vreeslik en as hy dan ‘n hou op die boud kry, is hy omgekrap, maar gaan weer dadelik met iets anders aan.

“Hy is egter sensitiewer daaroor as jy ‘n ernstige gesprek met hom voer. Soos kinders ouer word, verander hul gedrag en dissiplinering ook en ek dink ouers moet daarby aanpas.”

Marisa sê sy het onlangs ‘n nuwe taktiek in plaas van lyfstraf probeer deur gedragskaarte vir die kinders op te stel.

Hanteer jou kinders só

Prys al jou kinders gereeld as hulle iets reg doen.

Moedig elke kind aan om aan aktiwiteite deel te neem wat vir hulle lekker is of waarin hulle goed presteer.

Woon al jou kinders se aktiwiteite ewe veel by.

Skep geleenthede waar die gesin saam iets kan doen wat vir almal lekker is.

Help jou ouer kinders om nuwe vaardighede aan te leer in die rigting waarin hulle belangstel, bv kuns, kultuur, sport of geloofsaktiwiteite.

Moet nooit kant kies as jou kinders met mekaar baklei nie. Dit gebeur selde dat jy ‘n argument kan volg van die oomblik wat dit werklik begin het.

Wanneer jou kind jou beskuldig dat jy te veel aandag aan ‘n broer of suster gee, erken dit, maar moenie om verskoning vra nie. Verduidelik aan hom dat jy weer vir hom daar sal wees as hy ekstra aandag nodig het.

As jou kind jou ontsteld van onpartydige gedrag beskuldig, wag tot julle albei in beheer van jul emosies is en gesels oor hoe julle dieselfde gebeure anders sou kon hanteer.

 

TERUG